PORTIEPALJAS 

Die 11de en 12de Maart was dit weer tyd vir die tweejaarlikse Portiepaljas. Ten spyte van ‘n baie bedrywige sportkwartaal het sekere onderwysers en leerders hulle weg oopgesien om items aan te bied en wat ‘n suksesvolle poging was dit nie! Om hoogtepunte uit te sonder is moeilik.  

By die primêre afdeling het pragtige koorsang van ons senior- en juniorkoor asook treffende individuele- en groepitems, puik standaard getoon. Van balletdansies, bokskrytpassies, Michael Jackson en Rooikappie tot ‘n uitstekende kitaarsolo en suiwer solosang, het ons vasgenael gehou op ons stoele. 

By die hoërskoolafdeling het die CSV-kringleiers se dansdrama “Everything” ons werklik ontroer. Die relatief jong en “nuwe” Seunsensemble het gewys dat hulle weer goed op dreef is. Die gr-9's se poësieprogram “Cats” was oulik gekostumeer en die gr-11's se poësieprogram “Tiener” het getuig van baie talent en kreatiwiteit. Die gr-10 se revueprogram “Sjokolade” was baie oorspronklik en vermaaklik. Waldo, Marno, Zorba en Chopper se “The Kings for Queen” het luide applous uitgelok en die onderwysersitem”Elvis” het die konsert op ‘n hoë noot afgesluit.

Last Updated ( Saturday, 08 May 2010 11:25 )