Koshuis

Print

Huis W.O. Read

Port Natal is die enigste Afrikaans-Medium skool in Durban met ‘n koshuis.  Huis WO Read (vernoem na 'n voormalige skoolhoof) is gerieflik geleë naby die skool. Leerders kry dus die geleentheid om aktief deel te neem aan alle fasette van skoollewe, of dit nou sport, musiek, CSV, Duitse klasse of eksta wiskunde lesse is.

Dit gee aan Afrikaanssprekende leerders van verafgeleë gebiede die geleentheid om die voordele van 'n puik stadskool te ervaar. Daar is ruim akkomodasie vir sowat 100 leerders (50 seuns en 50 dogters) en ons streef daarna om vir ons inwoners 'n "huis weg van die huis" te bied.

Die koshuis beskik oor moderne geriewe insluitende ‘n kombuis, eetsaal, studiesaal en 'n gerieflike TV/sitkamer met M-Net en DVD-fasiliteite. In die junior afdeling slaap grade saam in 'n slaapsaal, terwyl seniors (Graad 10-12) in enkelkamers woon.

"ONS HUIS WEG VAN DIE HUIS"

Port Natal Skool se Huis WO Read is 'n pragtige gebou, ryk aan karakter en tradisie.  

TV

Die koshuisfonds sluit TV en M-Net in. Ongelukkig word geen TV toegelaat in die eksamen tyd nie, want dan studeer ons mos baie hard.

GODSDIENS

Elke oggend en aand is daar stiltetye.  Sondae is daar 'n verpligte oggend-eredienste wat bygewoon moet word.  Eie godsdiens vroeg in die oggende en laataande (stiltetye) moet deur mede koshuisgangers gerespekteer word.  Verlof om Sondae met ouers en vriende uit te gaan moet direk na kerk verkry word.

STUDIE

Daar is daagliks verpligte studietye.  Behalwe vir hierdie ure mag daar ook selfstudie gedoen word.  "Laatligte" moet vroegtydig gereël en bespreek word.  Indien 'n koshuisganger nie gedissiplineerd in die kamer studeer nie, mag hy/sy deur die onderwyser aan diens aangesê word om onder toesig in die Studiesaal te studeer.  Swak presteerders word ook deur dié reëling geraak.  Selfone moet afgeskakel wees tydens verpligte studie-ure.  'n Koshuisleerder mag nie selfoonspeletjies tydens studie speel nie.

ETES

Ontbyt:  06:45; Middagete:  Tydens die skool se 2de pouse; Aandete:  17:25

Elke ete is verpligtend aangesien daar presensie geneem word.

KOSHUISVADER EN SY VROU

Dié personeel tree te alle tye "locus parente" op.  Die koshuisvader en sy vrou se deur staan altyd vir die leerders oop en hulle moet die vrymoedigheid hê om enige tyd, met enige probleem of versoek na hulle te gaan.  Die sake sal met liefde, en met konfidensialiteit hanteer word.  Die leerder se belang word altyd eerste gestel.  Noue skakeling tussen koshuis en ouerhuis is van uiterste belang.  Die ouers word altyd op hoogte van sake gehou en voortdurend betrek by die opvoeding van hulle kind.

TOESIG

Daar is 4 mans- en 4 damespersoneellede wat om die beurt diens doen.  Die leerders mag nie die perseel verlaat sonder 'n toestemmingsfaks/sms van die ouers af nie.  Vir enige toestemming soos sport of buitemuurse aktiwiteite moet die uitteken dokumente in die voorportaal voltooi en geteken word.   Personeel betrokke moet toestemming bevestig.

MATRONES EN ASSISTENTE

Die matrones sorg dat alles in die kombuis reg verloop.  Hulle sien ook toe dat die Assistente die gange, badkamers en gebou netjies en skoon hou.  Die kos is van uitmuntende gehalte.

WASGOED

 Daar is 'n wassery by die koshuis waar alle klere gewas kan word.  Alle klere moet duidelik gemerk wees met gedrukte naamstrokies. Seuns handig vuil wasgoed Maandagoggende voor ontbyt in. Dinsdagoggende handig seuns vuil linne en handoeke in. Dinsdagmiddae ontvang seuns skoon wasgoed, linne en handdoeke.  Dogters handig vuil wasgoed Woensdagoggende voor ontbyt in. Donderdagoggende handig dogters vuil linne en handoeke in. Donderdagmiddae ontvang dogters skoon wasgoed, linne en handdoeke. 

DAAGLIKSE ROETINE

05:45 Wakkermaak en opstaan; 06:25 Stilte (eie godsdiens); 06:30 Inspeksie;  06:45 Ontbyt;

07:25 Skooltoe; 12:00 Middagete; 16:00 Badtyd; 17:25 Aandete; 18:30 Eerste studietyd

20:00 Tweede aandstudie; 21:00 Einde van tweede aandstudie; 21:40 Stilte (eie godsdiens)

21:45 Ligte uit

MEDIESE BEHANDELING

Die Koshuis kan slegs noodhulp aan 'n leerder verleen. Wanneer leerders tot die koshuis toegelaat word, moet die ouer aantoon watter geneesheer ontbied moet word indien benodig.   Indien 'n leerder tydens skoolure siek word, moet die Koshuisvader moet sodanig ingelig word.

SOSIAAL

Koshuispartytjies word gereeld gehou.  Die groot hoeveelhede seuns wat saans, na die ete, met balspeletjies op die rugbyveld besig is, is reeds 'n bekende gesig by Port Natal Skool.

VEILIGHEID

Die veiligheid van die leerders is baie belangrik.  Die deure word so ver moontlik, altyd gesluit gehou, sodat die onderwyser aan diens die kom en gaan van die leerders kan kontroleer.  Geen leerders mag die koshuisgronde verlaat sonder die medewete van die onderwyser aan diens nie.  Indien die leerder wederegtelik die terrein sonder enige toestemming sou verlaat, sal die koshuis nie verantwoordelik gehou word vir sodanige veiligheid nie.

TELEFOONNOMMERS

TEL:  031 205 1898 / 031 205 6369

FAKS:  031 206 0370

Selfone is gerieflik, maar word op eie risiko in die Koshuis toegelaat.  Die Koshuis aanvaar geen verantwoordelikheid daarvoor indien dit gesteel of verlore sou raak nie.

POSADRES

Huis W.O. Read
Queen Mary Rylaan
Durban
4001

VERDERE INLIGTING

Vir verdere inligting oor wat hierdie unieke Koshuis u kind kan bied, skakel die Koshuisvader -

Gideon Visagie 031 205 9627.  Hy sal u graag te woord staan.